34 results
Hoofstuk 11 - Die dood van Senzangakhona
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 92-96
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Terwyl Dingiswayo besig was om die volke te verstrooi, het Senzangakhona ’n baie ongelukkige bestaan gevoer, aangesien hy die een was wat Dingiswayo sedert hul jongelingsjare ’n lewe gelei het, en hom in der waarheid dood wou hê. En nou, terwyl hy sien hoe Dingiswayo en sý seun Chaka besig was om opgang te maak en die volke te verneder, het hy gebewe van vrees in die verwagting dat Dingiswayo wraak sou neem. Bowendien het Dingiswayo hom nooit genooi om deel te neem as hy die wapen opgeneem het, of gevra dat hy na sy belange tuis moet omsien as hy tydens sulke tye afwesig was nie.
Sy vroue het hulle bes gedoen om Nandi se naam uitgewis te kry onder die vroue van Senzangakhona, sodat sy bloot as ’n byvrou beskou moes word as haar naam wel genoem moes word. Mfokazana het hard probeer om die hart van die volk te verower. Hy het aan die mense beeste geskenk, sy strawwe in die hof lig gehou, en hy het selfs die verantwoordelikhede van die volk verminder, soos om vir die koning te saai en te skoffel. Hy het homself een met sy mense gemaak, iemand wat met hulle meegevoel gehad het, sodat die dag as Senzangakhona skielik te sterwe sou kom, hulle hom moes onthou.
Chaka het hom rustig besig gehou waar hy daar by Dingiswayo gewoon en die verloop van sy lewe oordink het. En nou was alle twyfel daarmee heen dat hy beslis die koningskap van sy vader sal kry, want alles wat Isanusi belowe het, het gebeur soos hy voorspel het, en Chaka het hom ten volle vertrou. Ndlebe het naby hom vertoef, sorgeloos op sy maag gelê en gegrinnik terwyl die vlieë ongehinderd in en uit sy mond loop, en met die kwyl wat uit sy mond drup en stadig grond toe val, het hy gelyk soos die idioot onder idiote; hy het gesnork as hy in die middel van die dag aan die slaap val, soos ’n ding wat dood is.
Hoofstuk 7 - Isanusi berei Chaka met medisyne voor
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 65-70
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Nadat Chaka en die dokter oor alles ooreengekom het, het die dokter met sy werk begin. Eerstens het hy sy kuif waaraan die middels gesmeer was, afgeskeer. Hy het gesê daardie middels is aangewend toe hy nog te swak was vir die kragtige medisyne vir koningskap. Toe maak hy snytjies rondom sy hart en vryf ’n middel toe-oë daarin terwyl hy sê: “Toelater-van-dié-wat-weg-is, toelater-van-dié-watonregmatig- weggeneem-word, aanvaar hom, ontvang hom, bring vir hom al die geluk van dié wat ontslaap het, laat dit hom bedek soos die dou die aarde! Laat sy spore modderig wees en moerassig soos onder gietende reën! Laat sy vyande almal verdwyn as hy verskyn, verdwyn soos mis as die son opkom!”
Toe hy klaar is, was hy die medisyne met water van sy hande af, klap op sy hande en spat die water oor Chaka waar hy ingeënt is, en toe die waterdruppels op die littekens val, begin dit oral op sy lyf te jeuk en begin Chaka yskoud voel. Die littekens swel hoog op; maar toe die dokter ophou, begin dit ook vinnig sak tot hul gewone fatsoen. Die dokter sê toe, dit is die regte medisyne vir geluk, hy sal nie weer een keer met dié soort ingeënt hoef te word nie.
Tweedens sny hy hom op die voorkop waar die hare ophou, lig die vel effens op en plaas ’n poeierige medisyne daarin, en toe gaan hy voort en glip nog ’n middel wat met krokodilharsings gemeng is, daarin. Dit doen hy terwyl hy gesigte trek en haastig te werk gaan. Toe sê hy, dit is die soort medisyne vir koningskap wat almal wat hom sien, sal laat bewe en voor hom sal laat neerkniel; as hy kwaad is, sal die bangbroeke sterf van vrees. Sy bevele sal só gehoorsaam word dat iemand wat talm om dit uit te voer, deur ander verskeur sal word sonder dat hy self iets hoef te doen. In oorlog sal niemand teen hom kan bly staan nie. Die dokter sê toe, die oorblywende medisyne het hy nie by hom nie, dit is medisyne vir bloedvergieting, vir moord: “Dit is baie, baie gevaarlik, maar dit is ook baie goed. Kies!” Die dokter laat die keuse aan Chaka oor, en noem ook dat hy niks vir hom wegsteek oor hoe gevaarlik daardie medisyne regtig is nie.
Hoofstuk 2 - Senzangakhona verwerp Nandi
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 26-34
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Toe Chaka ’n kleuter was, was hy ’n beminlike buksie met vet wangetjies, een wat nie maklik gehuil het nie, al sou hy ook op die grond beland. Selfs as hy pak gekry het, het hy gewoonlik nie veel gehuil nie, hy sou miskien een maal skree en dan ophou. Kinders skree gewoonlik erg as hulle slae kry, hulle soebat en sê hoe spyt hulle is, of hulle hardloop weg. Nie een van hierdie dinge het Chaka gedoen nie. Hy het gedink om te soebat is om die slaner te laat lekkerkry; weghol het hy as lafhartigheid beskou. As iemand slae kry omdat hy oortree het, behoort hy sy pak te vat. Hoe dit ook al sy, Chaka was ’n vredeliewende mensie wat sy moeder met niks lastig geval het nie. Mense wat hom geken het toe hy ’n kind was, vertel hoe hulle hom met ander kinders sien speel het, en sodra hulle hom in die oë kyk en met hom gesels, sou jy merk dat hierdie seun koningsbloed was, hy was nie ’n gewone mens se kind nie. Hulle sou sê, en enigiemand wat hom sien en van hom praat, het dit beaam: “Hy is die welpie van ’n leeu; die kleintjie van ’n roofdier; hy is ’n jong leeutjie”. Die goedkeuring van die mense het slegs in een rigting gegaan as hulle van hom gepraat het.
Chaka is terug na Ncube nadat sy vader hom gesien het. En in die dae toe hy begin kruip het, is Nandi sonder hom na Senzangakhona, Chaka het by die huis gebly en beeste en bokke is gereeld aan hom gestuur; daar is gesê dit is sy kos.
By Bungane het daar ’n vroulike tradisionele geneser gewoon wat beroemd was vanweë haar kundigheid met kruie om iemand aan te lok, om geluk te bewerkstellig, ook van dié soort wat ’n leier baie gewild kon maak by sy mense en onder ander leiers. Toe die tyd derhalwe aanbreek dat Chaka behandel moes word, is daardie vrou laat haal om hom onder hande te neem. Toe dié vrou daar aankom, sê sy Chaka is nog baie jonk, hy is nog nie gereed vir die sterk kruie vir leierskap nie. Maar sy het hom behandel met kruie vir geluk sodat hy voorspoedig kon wees in alles wat hy onderneem.
Hoofstuk 8 - Chaka kom by Dingiswayo aan – hy maak die waansinnige dood Die oorlog by Zwide
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 71-78
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Ongeveer twee maande het verloop sedert die dag dat Chaka van sy huis gevlug het en die dag dat hy en Isanusi uitmekaar is; met ander woorde, dié wat oor hom getreur het, het al die rouklere uitgetrek, maar intussen het Dingiswayo reeds sy dokters en waarsêers bymekaar geroep sodat hulle kon voorspel waar Chaka hom bevind, waarvan ons kan aflei dat hy baie van Chaka gehou het.
Toe Chaka die dag van sy huis gevlug het, was hy nog Chaka, ’n mens soos alle mense met die swakhede van menswees. Vandag keer hy gans anders terug; slegs die liggaam kom terug, die uiterlike. Sy ware self het agterbly waar hy vandaan kom. Hy keer terug met ’n ander gees en ’n ander persoonlikheid. Voorheen was hy ook iemand met ’n verstommende deursettingsvermoë, en het hy volhard totdat hy sy doel, die vervulling van die diepste planne van sy hart, bereik het, hoe moeilik dit ook al was. Daar was niks wat hom sou keer om wat hy beoog het, uit te voer nie. Maar ten spyte daarvan was hy steeds ’n mens, nie twisgierig nie, en nie iemand wat moeilikheid gaan soek het nie. Vandag, noudat hy besef hoe die kinders van sy vader hom sonder rede om die lewe wou bring, besef hoe sy vader homself in sy vyand verander het, en besef hoedat hy gevlug het en hom daar in die wildernis bevind het, nou het hy sy wese afgesterf. Vandag kom hy in hierdie gees terug: “Ek sal enige een doodmaak wat ek wil doodmaak, of hy skuldig is of nie, want dit is die wet van die wêreld. Ek sal nooit iemand begenadig oor sy smekinge nie.” Inderdaad keer Chaka terug sonder die gees van menslikheid, sy doel is slegs die dood, en hy het hom voorgeneem dat enige geding of enige geskil met die kierie opgelos sal word, om die aanklaer en die aangeklaagde saam dood te maak. Hy kom terug met die doel om ’n nimmereindigende oorlog te voer, waardeur hy die vyande, maar ook die mense tuis, om die lewe kan bring op ’n heimlike manier. Die vreeslike wrok in sy hart het gedreig om hom waansinnig te maak.
Hoofstuk 22 - Die dood van Nandi
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 177-181
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Chaka stuur toe ’n groot leërmag na die noorde, ver verby St. Luciabaai, om die konings daar te verstrooi en hulle beeste te buit. Maar die leër is deur ’n vreeslike epidemie in daardie gebied oorval en hulle het by die duisende gesterf en moes onverrigter sake omdraai, terwyl baie ook tydens die tog dood is. Toe besluit Chaka om nog ’n mag na daardie omgewing te stuur sodat hulle eers aan daardie gebied gewoond kon raak, en daarna tot die aanval kon oorgaan. Maar voordat hy dit gedoen het, stuur hy ’n ander impie van hom suidwaarts, waar die Maphoto hulle teen die verwagting in voorgelê en afgemaai het, sodat hulle weer ’n keer met leë hande moes omdraai.
Toe die impie tuiskom, was Chaka woedend kwaad en gryp die bevelvoerders en brand hulle oë uit met rooiwarm ysters, en sê die oë beteken niks in hulle koppe nie; waar was hulle oë dan dat die Maphoto hulle so in ’n hinderlaag kon gelei het? Die leier van daardie impie is verbrand terwyl hy nog geleef het. Al hierdie dinge het voor die oë van die impie gebeur wat die Maphoto probeer aanval het. Hierna is die einste impie weer na die noorde gestuur, op dieselfde dag dat hulle teruggekeer het. Hulle was dus baie moeg, want hulle het nooit gerus nie, en die aansteeklike epidemie van daardie gebied het sy tol geëis. In daardie tyd is sowat dertigduisend mense daaraan dood.
Toe die leërs van die huis begin vertrek, vra Chaka Malunga wat verkeerd geloop het dat die leërs van KwaZulu so onverrigter sake terugkom. En Malunga sê toe: “Ek glo die rede is dat jy wat ’n LeZulu is, nie gereeld mense om die lewe bring en hulle in groot getalle sien sterf nie, en jou eie hand nie meer gereeld doodmaak nie; jy word net daarvan vertel en kom so daarvan te hore. As ’n hond wat behoorlik behandel is, nie toegelaat word om te jag nie, sal dit uiteindelik bokke en mense verskeur; net so is dit met ’n mens wat met sulke sterk medisyne behandel is: as hy nie doodmaak nie, sal daardie medisyne teen hom draai en hom doodmaak.”
Hoofstuk 5 - Chaka vlug van sy tuiste
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 48-56
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
In daardie ou dae het wilde diere ’n ernstige bedreiging vir die mens ingehou. Saans, terwyl die mense nog gekuier het, of teen slapenstyd, het ’n hiëna, as hy nie bokke kon vang nie, dikwels in ’n dorp ingeglip, iemand gevang en met hom laat vat, terwyl niemand hom agterna gesit het om te maak dat hy die slagoffer laat los nie. En daardie arme mens het aanhoudend die donker nag in geskreeu en gesê: “Hy tel my op! Hy sit my neer! Hy vat my weer! Hy sit my neer! Nou vreet hy my!” Deur so te roep het die slagoffer bly hoop dat hy mense daarmee kon waarsku waar hy hom bevind sodat hulle hom te hulp kon snel. Maar uiteindelik het die hiëna hom dan opgevreet sonder dat iemand hom te hulp gesnel het. Omdat daar in daardie dae nie stewige deure was nie, is kinders soos Chaka dikwels by so ’n ingang laat slaap, in die huis van die jonges, sodat hiëna se kind dié een kon vang en die ander kon oorleef. Hy wat Chaka was, is daar by die ingang van die jongklomp se hut laat slaap sodat die gevare van die nag en van towery by hom kon begin. Van hom is ’n versperring gemaak waarmee ander beskerm is. Maar ten spyte daarvan het daardie gevare by hom verbygegaan; ’n hiëna sou slegs aan hom ruik en dan verbygaan dieper die hut in en iemand anders opraap. Sulke kere het die hiëna gewoonlik nie iemand by die ingang gevat nie, so asof hy geweet het dat dié wat by die ingang slaap, die uitgestotenes was.
Twee of drie keer is Chaka se hande daar by die slaaphut geboei en is hy buite voor die hut so vasgemaak laat slaap, sodat die hiëna hom kon sien terwyl dit nog in aantog was. Wanneer ’n hiëna naby die dorp opgemerk is, is daar verwag dat hy mense sou vang as dit donker word; maar sulke nagte het die hiëna bokke gevang en mense met rus gelaat. Chaka het voorwaar swaar grootgeword.
Hoofstuk 18 - Die dood van Noliwa
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 148-154
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Die maande wat Isanusi vir Chaka bepaal het om na te dink, het verloop sonder dat hy van gedagte verander het, en hy het steeds by sy woord van vroeër gestaan. Soos ons gesê het, was daar ’n haakplek met die bruilof van Chaka, en dit was die vraag na wie die troubeeste moes gaan, aangesien dit ondenkbaar was dat hy haar sommerso soos ’n hoer sou neem. Nogtans het Chaka gereeld na Noliwa gegaan en sy het verwagtend geword. Gedurende haar swangerskap het haar liefde vir hom toegeneem, en wanneer sy hom nie gesien het nie, het sy al die tyd na hom gesmag.
Ook Chaka was baie lief vir Noliwa; ons glo as daar ooit ’n vrou was wat Chaka waarlik liefgehad het, was sy die enigste een op wie sy liefde ooit geval het. Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat ’n deugdelike vrou vir haar man kon doen, het hy van Noliwa ontvang; en ofskoon hy haar verkwansel en haar moord beplan het, het sy gewete sonder ophou aan hom gevreet en hom vertel dat hy die pad van menslikheid byster geraak het; maar as gevolg van sy sug na heerskappy het hy dit onderdruk, voortgebeur en rondgeloop met die dood op sy skouers.
Aan die manier waarop Ndlebe en Malunga te werk gegaan het, het dit reeds vir hom duidelik begin word dat dit hom sonder twyfel na die heerskappy sou neem wat hy begeer; daarom het hy die klip onwillig ingesluk en sy hart sterk gehou.
Malunga sê toe vir Chaka dat die tyd wat bepaal is, reeds verloop het, en dat Isanusi dit sonder twyfel met opset uitgestel het sodat Chaka se gemoed tot bedaring kon kom. Toe sê Chaka: “Maar Isanusi se gesloer sal my in ’n verleentheid laat beland, want ek wou al lankal weer aanval; dis al lank dat ons net sit en niks doen nie, ons spiese sal oproes.”
Malunga: “Volgens die manier waarop ek gewerk het, kan jy nie aanval sonder die bloed van die een wat jy liefhet nie, maar dit is ’n saak vir Isanusi, nie vir my nie.
Hoofstuk 24 - Pynlike drome
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 186-190
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Van daardie dag af was Chaka nooit weer so gelukkig soos voorheen nie. Hy het gereeld pynlike drome begin kry wat hom snags laat wakker skrik en slapeloos gelaat het, drome wat hom ontgaan het as hy wakker word. ’n Paar dae na daardie fees droom hy hierdie droom: hy droom hy sien homself sedert sy kinderjare tot die dag dat hy Isanusi ontmoet het; en daar word hy wakker oor die pynlikheid van sy droom. Hy gaan toe weer slaap en toe hy diep slaap, hervat daardie droom, en toe hy by die ontmoeting met Isanusi kom, word hy weer wakker. Drie keer in een nag kry hy een en dieselfde droom wat op ’n sekere plek begin en op ’n sekere plek eindig. Die verbasende ding is dat hy elke keer wakker word as hy by sy ontmoeting met Isanusi kom, hoewel ons selfs vandag nie weet wat dit was wat hom gekwel het oor hom en Isanusi nie; Isanusi was tog sy boesemvriend. Toe hy die derde keer wakker word en nie kon slaap nie, staan hy op en sit en wag dat die nag opklaar; maar die inhoud van sy drome het hom ontgaan, hy kon slegs onthou hoe pynlik dit was.
Toe die dag breek, is hy deurmekaar, sy hart is swart, hy wil niks hê nie, hy word kwaad as mense selfs met hom praat of hom groet. Die volgende nag toe hy aan die slaap begin raak, droom hy weer daardie einste droom; hy staan toe op en gaan uit na die huis van sy geliefde, die geliefde onder die geliefdes, ’n meisie met ’n pragtige geaardheid en die mooiste liggaam, ’n skoon gelaat, ligte kleur, dié skoonheid onder al die meisies van KwaZulu. Toe Chaka by die meisie kom, lyk sy vir hom hoendervel en nie mollig soos gewoonlik nie, en haar stem is skor en irriterend en steek seer in sy ore. Hy verlaat haar en gaan die nag in, maar vind nie die rus waarna hy soek nie. En toe hy weer na haar terugkeer, vind hy haar nog net so en hy loop toe weer.
Voorwoord deur Chris van der Merwe
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 11-15
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Wat ’n voorreg is dit vir Afrikaanse lesers dat hulle Mofolo se Chaka nou in hierdie sprankelende vertaling van Chris Swanepoel kan lees. Mofolo se roman is ’n klassieke teks, een van die vyf topboeke op die lys van die honderd mees invloedryke boeke wat ooit in Afrika gepubliseer is – ’n lys wat in die 1990's deur ’n komitee van deskundiges onder voorsitterskap van prof Njabulo Ndebele opgestel is. Die werk is dan ook in verskeie tale vertaal en het as kreatiewe inspirasie gedien vir vooraanstaande skrywers soos Léopold Senghor en Wole Soyinka. Nog onlangs verklaar die knap Nederlandse digter Alfred Schaffer dat sy jongste bundel, Mens dier ding, deur Mofolo se roman Chaka geïnspireer is.
Chaka is ’n historiese roman, maar dis nie ’n verhaal wat hom streng aan die historiese feite hou nie. Wesens met bonatuurlike magte maak hulle verskyning, soos Isanusi en sy twee trawante, Ndlebe en Malunga, en die historisiteit van sommige ander karakters kan ook bevraagteken word. Maar juis omdat Mofolo hom nie altyd streng by die feite van die historiese relaas hou nie, het hy die vryheid om in sy uitbeelding te kom by fundamentele vrae oor die menslike natuur en die menslike kondisie: kwessies soos die konflik tussen mag en menslikheid, die spanning tussen vrye wil en noodlot, en die verband tussen trauma en vergelding.
Mofolo se roman voer ’n gesprek oor grense van taal en kultuur heen. Dit het raakpunte met grootse werke in die Europese kultuur: Shakespeare se Macbeth, waar die tragiese figuur ook ondergaan as gevolg van magsug, en waar drie bonatuurlike wesens die ondergang inisieer; en Goethe se Faust, waar die hoofkarakter sy siel aan die duiwel verkoop, ’n besluit wat die lewe van sy geliefde Gretchen kos.
Maar bowenal het Mofolo se Chaka raakpunte met die Grieksklassieke tragedie, soos dit ontwikkel het in die dramas van Aischulos, Sofokles en Euripides en beskryf is deur die filosoof Aristoteles. Chaka is ’n uitsonderlike man, soos die Griekse tragiese held; iemand wat bo die gemiddelde uitstyg deur sy vermoëns en sy dade. Hy is die dapper held wat ’n leeu en ’n hiëna doodmaak wanneer al die ander manne bewe van vrees; as soldaat vertoon hy ’n buitengewone dapperheid en strategiese insig.
Hoofstuk 17 - Die hervormings en organisasie van Chaka
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 133-147
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Voordat ons met die verhaal oor Chaka se bewind voortgaan, moet ons vertel hoe die Bathethwa-staat daar uitgesien het toe Dingiswayo die koningskap oorgeneem het, en waar dit gestaan het toe hy dood is.
Dingiswayo het gekom en die bewind oorgeneem toe hulle volk in pikdonker duisternis was. Die mans het ledig by die huis gesit en niks gedoen nie. Daar was geen veeboerdery nie. Hy het gekom en dinge verander. Hy het almal wat beesvelle kon brei en naald- en rygwerk kon doen, genooi om komberse te maak, en vir hulle ’n werkplaas gebou waar hulle kon werskaf en handel kon dryf; en daardie werkplaas het gou verander in ’n ruimte soos ’n groot kombersmark. Vir skrynwerkers en horingkerwers het hy dieselfde gedoen, en hy het hulle aangemoedig deur die bestes onder hulle te beloon. En daar het ’n sterk kultuur van handeldryf en vlytigheid posgevat, en nie slegs van vlytigheid nie, maar ook van kunstigheid en vakmanskap. Ook die knap sorghumboer wat van seisoen tot seisoen meer as ander geproduseer het, is daarvoor beloon. En toe het hy ’n roete na Delagoabaai oopgekap waar daar groot handelsmoontlikhede bestaan het. Ook die vroue het hard gewerk om mooi, kunstige potte te maak en daaruit vergoeding te ontvang. Verder het hy hard probeer om ’n gees van menslikheid onder die volk te vestig sodat hulle mekaar nie voortdurend en sonder rede moes kwaad aandoen nie; ofskoon hy nie volledig daarin geslaag het nie, was dit duidelik dat hy hulle ’n verhewe ding leer wat vir hulle ’n wonder was. Die landstreek het veilig geword, en daar was voorspoed in die dae van Dingiswayo, en so was dit toe Chaka die bewind oorgeneem het.
Nadat Chaka sy volk se naam verander het, het hy die jongmanne van Zwide se verstrooide volk en van ander wat aan hom onderdanig was, bymekaar geroep en vir hulle gesê: “Vandag is julle sonder ’n koning, en ook sonder ’n volk, en julle verdien die dood, want julle het my koning Dingiswayo doodgemaak, hy wat julle in alles met deernis behandel het, maar ek sal julle nie teen julle sin doodmaak nie.
Hoofstuk 25 - Donga lukaTatiyana
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 191-195
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Die son het gesak, aandskaduwees het gedaal en uitgerek; die nag het gekom en die mense het te ruste gegaan. Selfs Chaka is deur die slaap oorval, want sy kop was vermoeid. En toe hy diep slaap, kom sy pynlike drome soos kwelgeeste erger as tikoloshe, kom hulle na hom in sy slaap. Hy droom, en daardie nag brei sy droom uit. Hy droom hy sien sy koning Dingiswayo en sy prysenswaardige dade waar hy besig was om ’n gees van menslikheid onder die mense te vestig, en hy sien hoe hyself daardie voortreflike werk vernietig. Toe word hy wakker, en dwaal weer rond om die slaap af te skud, en tuur in die nag gereeld uit op die pad om te sien of sy jonger broers Dingana en Mhlangana nie al naby was nie. Maar omdat sy knieë hom nie kon dra nie, gaan hy sit; en pas het hy gaan sit of hy word deur die slaap oorval en hy droom.
In daardie droom sien hy homself van sy ontmoeting met Isanusi totdat hy koning geword het. Al sy dade gaan stadig voor sy oë verby, ofskoon hy sou verkies het dat dit vinniger verbygaan. Hy sien al sy oorloë, hy sien hulle beter as die dae tot hy daar midde-in was, toe hy geveg het; dié wat daarin dood is, sien hy sterf; die volke voor hom wat hy al vlugtende verstrooi, hoe hulle mekaar in die vlug opeet, sien hy; en hy sien al die werke van sy koningskap. Nongogo se spioenasietog en die smart en ellende daarvan, en sy afsterwe sien hy, en hy sien ook die lotgevalle van Mnyamana. Die moord op baie onskuldige vroue, hulle wat in oorloë weggevoer is, en die dood van die suigelinge, dit sien hy goed, hoe elke mens van kant gemaak is. Toe hy by die moord op sy vroue kom, kry hy berou en word hy wakker; hy wil opstaan maar kan nie; hy wil skree maar sy mond wil nie saamwerk nie; iets druk hom op die grond vas.
Hoofstuk 26 - Die einde van Chaka
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 196-198
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Die son het opgekom en hoër gestyg, en toe die beeste al rustig gewei het, daag Dingana en Mhlangana daar op; hulle was op pad vanaf die oorblywende regimente wat ’n afstand van Chaka af gekamp het, ’n afstand wat binne ’n uur deur ’n sterk hardloper afgelê kan word.
Chaka was buite homself van vreugde om sy broers te sien, hy het opgespring asof hy hulle die eerste keer sien, en asof hulle vir hom koel water bring om sy pyn te verlig. Toe bedaar sy pyne en lyding en dit gee hom geleentheid om met sy broers te praat. Chaka was reeds baie swak van bekommernis en die gepieker van sy rustelose hart; maar ten spyte daarvan dat hy erg verswak was, het hy nie maer geword nie. Die grootste gedeelte van die dag gesels hy met hulle, en vra hulle oor hulle ekspedisies uit, en hulle het hom vertel wat hy hul gevra het. Dingana het gou gemerk dat Chaka inderdaad baie swak was, en het homself reggemaak om sy lelike plan nog op daardie selfde dag ten uitvoer te bring.
Teen die middel van die dag keer Chaka se pyne weer terug; en toe die aandskaduwees daal en later toesak, skeur die pyne met geweld deur hom en verhoed hom om verder met sy broers te gesels.
Op daardie moment kom daar gesante van Moshoeshoe by hom aan met geskenke van bloukraanvoëlvere om sy leërs mee te versier. Hy neem dit en bewonder dit, maar sy onstuimige hart verhinder hom om verder daaraan aandag te gee. Sy dade gaan weer vlugtig voor sy oë verby en tussen almal wat hy voor hulle tyd van die aarde verwyder het, sien hy Noliwa in daardie hutjie, en hy hoor haar laaste woorde: “Chaka, my geliefde, jy wat nou my vader geword het, jy Jobe, jy Dingiswayo, jy…!” En toe hy daardie woorde hoor, sien hy Noliwa weer, sy kop duisel, sy lyf slaan oral sweet uit; die woorde van Isanusi toe hy gesê het: “Vandag is jou naam gevoeg by die name van die konings van ons geweste, die beroemde konings”, verstaan hy beter as die dag toe dit gesê is.
Erkennings
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 16-18
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Wanneer mens na veertig jaar die voorreg het om na ’n gevierde teks terug te keer, dit te herlees en van voor af weer te vertaal, besef mens meer as tevore – maar nooit genoeg nie – aan hoeveel mense en omstandighede jy dank verskuldig is. Dat jy as plaasonderwyserskind in die Oos-Vrystaat tussen Basotho groot kon word en húlle en Sesotho kon leer liefkry – in ’n omgewing wat jy met die skrywer en opvoedkundige R.J.R. Masiea gedeel het sonder dat een van julle daarvan bewus was; dat jy, toe jy hoërskool toe is, Sesotho as matriekvak kon kies toe J.S. Venter destyds op Sentraal daarmee begin het; dat jy dit as aandstudent aan die destydse UOVS as ’n hoofvak kon neem en onder S.B. van der Westhuizen en J.J. Moiloa – ook ’n bekende skrywer – op die gradepad verder kon volg, en ’n geseënde loopbaan daarvan kon maak; dat jy Mofolo se Chaka reeds as eerstejaarstudent kon begin bewonder; en veel later, danksy die welwillendheid van Albert Brutsch in sy pastorieargief op Morija, oor Thomas Mofolo en die veelbewoë publikasiegeskiedenis van dié meesterwerk kon navors. Die lys wil aanhou – oor professore en doktore, hulle insette en inisiatiewe:
Pule Stephen Maphike het by die ou RAU (nou UJ) verder gesaai. Malefetsane Lenake, Unisa se welsprekende Afrikaanse Mosotho van weleer – by hom het ek soveel geleer! Nog vroeër al, Daniel Teboho Koekoe, omroeper en geskiedeniskenner; Matthew Phello Khaile, omroeper en taalkenner. Later William Moruti Tšiu, tradisionele poësie-kenner; ‘Makali Mokitimi van die National University of Lesotho (NUL), spreekwoordspesialis en méns; en Rosemary Moeketsi, tolkaktivis, opvoedkundige, leidsvrou aan Suid-Afrika se grootste universiteit. Nog later, my Franse kollega Alain Ricard van Bordeaux; en Antjie Krog (UWK) en Chris Dunton (NUL), wat met hul Mofolo-konferensie vroeg in Maart 2015 op Roma die internasionale belangstelling in al Mofolo se werk, en hul vertalings, opnuut onderstreep het.
Chris van der Merwe het op my versoek waardevolle insette oor Afrikaans gemaak, ingestem om ’n Voorwoord te skryf, en lank in die heruitgeebaarheid van Chaka bly glo. Anne-Marié het oor ’n leeftyd my laatnagwerkgewoontes verdra en die vertaling – soos so baie van my pleginge óf gelees óf aangehoor.
Hoofstuk 16 - Die nuwe naam
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 125-132
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Isanusi en sy kornuite het by Chaka gesit en praat oor die onlangse verloop van sy lewe. Isanusi sê toe: “Vandag het sake baie verander, Chaka; jy is Koning Chaka, jy is nie meer Chaka, daardie swerwer van destyds wat ek onder die boom opgetel het nie. Nou die dag het jy my geroep toe jy in die nood was, vandag is daardie mense vir wie jy bang was in die nood, nou vrees hulle jou!” Chaka: “Ek was nie net in die nood nie; sake het wanhopig gelyk en dinge was in ’n warboel toe ek jou geroep het. Maar waar wás jy toe ek jou geroep en jy nog dieselfde aand gekom het, want jou huis is baie, baie ver, soos jy gesê het?”
“Toe jy my geroep het, was ek al op pad, want ek het reeds gehoor dat jy hierdie maand in die moeilikheid sou kom, eintlik moet ek sê, daardie dag.”
“Van wie het jy dit gehoor, want Ndlebe en Malunga, wat weet waar jy woon, was hier by my?” – “Ek is Isanusi, onthou.” Chaka krap toe slegs sy kop en praat oor iets anders en sê, Zwide was ’n lafaard dat hy Dingiswayo doodgemaak het, want hy wat Chaka is, het ’n versoek gestuur dat hy nie doodgemaak moet word nie, hy sou ’n losprys vir hom betaal. Isanusi vra toe: “Waar sou jy soveel beeste in die hande kry, aangesien jy niks van jou eie het nie?” – “Ek sou Dingiswayo s’n geneem en hom met sy eie beeste losgekoop het. As hulle te min was, sou die mense spesiale belasting moes betaal om hulle koning los te kry.”
“Wat het Zwide jou toe geantwoord?” – “Hy het my tot nou toe nie geantwoord nie; en toe ek by die koningshuis aankom, was dit al bekend dat die koning doodgemaak is, maar ek het later gehoor dat hy op daardie stadium nog gelewe het.” Toe praat Ndlebe en Malunga tegelyk en sê: “Ons het jou gesante voorgekeer, en dit is ons wat die gerug versprei het dat Dingiswayo reeds doodgemaak was, terwyl hy in werklikheid nog gelewe het.”
Hoofstuk 14 - Chaka word in die koningskap van sy vader bevestig
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 112-117
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Die dag van Chaka se beëdiging het aangebreek. Pas nadat die beeste weg is weivelde toe, kom Noliwa met haar groep aan, aangesien sy en haar maats nie saam met Dingiswayo kon kom nie. Die skare het reeds gesit toe Chaka die huis verlaat waarin hy homself afgesonder het, nadat hy die nag van sy vader se graf teruggekeer het. Dingiswayo het die verrigtinge gelei, en in alles het hy uit sy hart die waarheid gepraat en niemand voorgetrek nie. Hy het slegs gesê wat sy gewete hom toegelaat het, want hoewel hy deeglik bewus was van die dinge wat sy gemoed ernstig omgekrap het, wou hy nie weer daaroor praat nie. Die raadsmanne het op hulle beurt ook gepraat; uiteindelik is Chaka die geleentheid gegee.
En toe hy opstaan, die seun van Senzangakhona, staan hy daar, tussen lig- en donkerbruin, ryp, glad en aantreklik vir die oë van almal wat na hom kyk. Toe die mense, die volk, na hom kyk, sien hulle ’n koningseun gebore om te regeer en ander te lei. En sy mense was ook hartseer toe hulle daaraan dink hoe hul hom versaak het omdat hulle nie geweet het hoe ’n mens hy was nie; en hulle besef hoe hulle hulself byna van ’n leier beroof het. Toe die leërs en die jong manne na hom kyk, sien hulle ’n mooi jong man met skerp oë en ’n sterk arm, gereed om ’n spies en ’n skild te dra. En toe hulle onthou dat hy inderdaad is soos hulle hom sien, groei hulle liefde vir hom. Toe die raadsmanne na hom kyk, sien hulle ’n jong koning, ’n jong loot met baie belofte. Die jong meisies sien ’n held, ’n prag van ’n man onder al die jong mense, in alle opsigte ’n afgeronde jong man, sonder letsel, buitengewoon begaaf. Almal wat na hom kyk, sien ’n jong man van die koningshuis wat aan menigtes gewoond is; hulle sien ’n bevelvoerder wat gebore is om die groot magte aan te voer.
Inboud
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp v-vi
-
- Chapter
- Export citation
Hoofstuk 12 - Noliwa
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 97-102
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Onder al die susters van Dingiswayo was die een wat hy die liefste gehad het, die laaste kind wat uit sy moeder gebore is, die kgorula. Sy het baie soos die suster gelyk wat net ouer as hy was en hom gered het die dag toe sy saam met sy ouer broer, Tana, gesterf het. Hierdie twee kinders het op mekaar getrek soos ’n tweeling, selfs in hulle manier van praat. Daarom was Dingiswayo vir hierdie een wat oorleef het, baie liewer as die ander, nie soseer omdat sy uit sy moeder se skoot gekom het nie, maar omdat hy in haar gesig die gesig gesien het van die een wat dood is. Haar oë, wange, ore, stem, houding, maniere, alles was soos die een wat oorlede is, wat haarself opgeoffer het om hom uit ellende en van die dood te red. Haar naam was Noliwa; sy was wonderlik beeldskoon, en die uitnemendste van haar skoonheid was haar wit, vriendelike en sagte hart. Almal wat haar geken het, het gesê Nkulunkulu het sekere dinge deur haar geopenbaar, sodat sy kinders in haar buitengewone skoonheid en haar sagte, liefdevolle oë die skoonheid en onuitspreeklike liefde van hulle Skepper kon herken, sodat hulle in Noliwa die volmaakte, ongeskonde vrou kon sien, en die volmaaktheid van Nkulunkulu kon verstaan. Dalk is dit as gevolg van haar skoonheid dat die Basotho ’n legende het wat vertel van die meisie wat weens haar skoonheid, so word gesê, nie na buite mog gaan nie, want as sy dit sou doen, sou daar niemand op die lande wees om die werk te doen nie, en die veewagters sou geweier het om die vee te gaan oppas, almal sou hulle gehaas het na waar sy haar bevind om hulle oë met haar skoonheid te voed.
Noliwa het Chaka wonderbaarlik liefgehad. As daar kana gespeel is, het sy egter nie deelgeneem nie. Sy het haar ook nie na die huise begeef waar dit gespeel is nie, want by die kana het Chaka, die een wat haar bekoor het, altyd eenkant bly staan.
Hoofstuk 23 - Die onversadigbare dors
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 182-185
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Die lewe van Chaka is deur baie en belangrike gebeurtenisse gekenmerk, deur gewigtige en raaiselagtige wedervaringe, verborgenhede wat die mense nie verstaan het nie. Aangesien dit egter nie ons gedagte was om al die gebeurtenisse van sy lewe mee te deel nie, het ons vir onsself slegs een gedeelte gekies wat by ons doel met hierdie verhaal sou pas. Waar ons nou gereed maak om af te sluit, wil ons die leser herinner aan wat reeds vertel is.
Chaka het met die spies wat Isanusi vir hom gemaak het, genadeloos doodgemaak. Hy het gou beroemd geword en ’n magtige koninkryk daarmee opgebou. Met die leërs van daardie groot ryk is hy suidwaarts en het hy die nasies afgemaai en niks oorgesien nie, maar dié wat voor hom uitgevlug het, se getalle was steeds groter as dié wat hy gedood het; en so was dit ook in die noorde, en in al die oorloë waarin hy betrokke was. As ons die mense tel wat deur Matiwane gedood is toe hy vir Chaka gevlug het, as ons dié tel wat deur die Batlokwa van Sekonyela gedood is, dié tel wat deur Moselekatse, en dié wat deur Chaka self in KwaZulu gedood is, asook die suigelinge wat op sy bevel gedood is, dan vind ons dat daardie getal waarlik groot is. En as ons Noliwa se dood, Nongogo en Mnyamana se dood, Nandi s’n en die vroue van Chaka in gedagte hou, dan vind ons dat daardie getal skrikwekkend is. Om beter te verstaan, kan ons sê die getal mense wat deur hom gedood is, is drie of vier keer meer as dié van al die Basotho, en dan tel ons die Basotho se mans, vroue en kinders.
Die difaqane was as gevolg van Chaka, die tyd toe mense mekaar opgeëet het en al hulle besittings ontneem is; die tyd ook van die rondloperbendes wat niemand kon dink moontlik was nie. Deur hom het die mensvreters ontstaan, daardie liederlike, skandelike ding wat alle aaklighede oortref waardeur mense mekaar soos diere gejag het, en gejag het om mekaar op te eet.
Hoofstuk 9 - Ndlebe en Malunga sluit by Chaka aan
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 79-85
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Chaka het gewoonlik alles in verband met die medikamente van sy dokter met sy moeder bespreek, maar wat ons verbaas, is dat hy nooit enige besonderhede van sy ontmoeting met Isanusi aan sy ma vertel het nie, ook nie van die behandeling of van Isanusi se beloftes aan hom nie. Hy het bloot gesê hy het daardie dokter van wie gepraat is, ontmoet, en dat hy hom behandel het; maar hy het dit vereenvoudig en slegs bolangs daaraan geraak. Miskien – ons sê miskien, want ons weet nie of dit die werklike rede was nie – miskien was hy bang om sy moeder ten volle oor sy verstandhouding met Isanusi in te lig, omdat hy geglo het dat Isanusi ’n towenaar was, en sy moeder hom sou aanraai om hom te laat vaar. Maar of hy gemeen het dat Isanusi ’n towenaar was of nie, het nie werklik vir hom saak gemaak nie, solank hy die medisyne en die koningskap kon bekom wat hy wou hê. Hy het reeds besluit dat hy enige iets sou doen, hoe verdag dit ook al mag wees, solank dit hom na sy koningskap sou neem.
Na die oorlog teen Zwide het Dingiswayo verskeie oorloë teen omliggende volke gevoer en hulle oorwin, en toe het hy halt geroep om sy manskappe te laat rus. Toe Zwide dit merk, het hy gemeen dat Dingiswayo se getalle uitgedun is en dat hy gewag het om die tekorte met onervare krygers aan te vul. Daarop besluit Zwide om onder hierdie omstandighede weer aan te val. Daardie dag het Zwide sy hele volk bymekaar geroep, mans en jongmans, ou manne en beginners wat die spies vir die eerste keer opneem, selfs die tuisblyers is opgeroep. Die aanval is so beplan: Zwide sou vooruit trek om Dingiswayo te ontmoet, en die moment dat die geveg begin, sou hy terugval, dan weer gou aanval en terughou, en so voortgaan totdat hy Dingiswayo in ’n kloof ingelok het waar ’n hinderlaag tussen die bosse sou skuil, want vir die aanval het Zwide reeds ’n nabygeleë koning se leër genooi om sy magte aan te vul.
Hoofstuk 3 - Chaka maak ’n leeu dood
- Thomas Mofolo
- Translated by Chris Swanepoel
-
- Book:
- Chaka
- Published by:
- University of South Africa
- Published online:
- 11 November 2021
- Print publication:
- 08 March 2017, pp 35-40
-
- Chapter
- Export citation
-
Summary
Eendag, toe Chaka nog ’n baie jong man was, ’n onbesnede jong os, het hy beeste na die weiveld geneem terwyl dit nog baie vroeg was. Teen dagbreek was hulle teen ’n helling aan die bokant van ’n aantal graanlande. Terwyl hy hulle so weglei, het ’n leeu een van die krale by hulle woonplek binnegesluip, ’n jong kalf gevang en daarmee weggeglip. Hy het dit blykbaar opgevreet en toe hy klaar was, gemerk dat die dag al aan die breek was, en toe net daar gaan lê waar dit baie ruig was. Chaka was met sy kudde op pad, onbewus daarvan dat hy hom op die spoor van die gevreesde roofdier bevind. En skielik, in ’n oogwink, spring die beeste om en vlug reguit terug huis toe! Hy het daar agtergebly en slegs gewonder wat hulle makeer, of wat hulle tog sou gewaar het. Omdat daar niks was wat hy daaraan kon doen nie, volg hy hulle toe maar terug huis toe.
Teen daardie tyd was die son reeds aan die opkom, en toe die mense tuis merk dat die beeste omspring en hom agterlaat, het hulle al geweet dat die beeste ’n leeu gewaar het, want die eienaars van die kraal waarin die leeu gespring het, het reeds vir die ander daarvan begin vertel. Terwyl hulle mekaar nog daarvan aan die vertel was, sien hulle die leeu naby die beeste in die rigting van die bos wegsluip. Maar die bos was nog ver en gevolglik gaan hy in die ruigte onder digte struike lê.
Toe kom Chaka by die mans waar hulle besig was om planne te beraam om die leeu agterna te sit en hy gaan met hulle saam. Die mans vorm toe ’n groot halfmaan en loop dig bymekaar sodat die leeu sou sukkel om te besluit wie om eerste te vang. Toe hulle agter ’n bult verdwyn, begin die leeu beweeg, maar in plaas van te vlug, kom hy hulle tegemoet. Hy beweeg kruis en dwars, skuil-skuil, sy maanhaar platgetrek. En toe hulle naby genoeg kom dat hulle hom sou kon sien, gaan hy lê en wag hulle in.